Het jy mondsere? Maak só om die seerplek te behandel | Huisgenoot (2024)

’n Seerplekkie in die mond word dikwels geïgnoreer, maar wees op die uitkyk na tekens wat ’n doktersbesoek vra.

Het jy mondsere? Maak só om die seerplek te behandel | Huisgenoot (1)

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dit gebeur van tyd tot tyd met die meeste mense: 'n seerplek in die mond. Dis dalk ongemaklik en seer, maar die meeste van ons steur ons nie veel daaraan nie.

Dis nie noodwendig 'n aanduiding van 'n ernstige probleem nie, maar tog is 'n mondseer nie iets wat jy moet ignoreer nie, waarsku dr. AP Dippenaar, 'n spe­sialis in periodonsie en mondgeneeskunde in ­Pretoria en Johannesburg. “Dit wys iets is ­verkeerd of iets het gebeur en moet aandag kry, ” sê hy.

Die mond is 'n maatstaf van wat in jou lyf aangaan en is soms die eerste aanduiding van ernstige siektes, voeg prof. André van Zyl, 'n spesialis in mondgeneeskunde en periodonsie op Hermanus, by. “Daarom moet 'n mens altyd probeer vasstel waarom die sere daar is en dit nie net as 'n irritasie afmaak nie.”

Wat veroorsaak dit?

Mondsere kom voor wanneer die voering van die mond en lippe – slymvlies of nat vel – beskadig word. Dis moeilik om presies te voorspel wie 'n mondseer gaan kry, sê AP.

“Ons liggame verskil. Party mense het 'n dikker mondvlies en ander 'n sterker immuunstelsel. Daarom kan een mens lewenslank vatbaar wees vir mondsere, terwyl iemand anders – met dieselfde leefstyl – dit nooit kry nie.”

Algemene oorsake

Die meeste enkelsere kom voor weens skade of irritasie, soos dat jy jou wang of tong raak gebyt het, 'n harde tandeborsel gebruik, draadjies of 'n te skerp stopsel het of jou mond met kos gebrand het, sê dr. Ockert Bekker, 'n tandarts van Durbanville.

Mondsere kan andersins aangewakker word deur 'n yster- of vitamien B12-tekort, veral as die sere gereeld voorkom, verduidelik André. Dit is veral 'n risikofaktor vir vroue wat bloedarmoedig raak wanneer hulle menstrueer.

Verder is jy vatbaarder vir mondsere wanneer jy hoë druk ervaar, soos tydens 'n eksamen of 'n woeste spertyd by die werk. Dit kan ook 'n aanduiding van 'n verswakte immuunstelsel wees.

As jou mondsere binne twee weke verdwyn en jy vermoed 'n verswakte immuunstelsel of ystertekort was die oorsaak, hoor by jou huisdokter of apteker watter aanvullings jy kan gebruik om te verhoed dat dit weer gebeur.

Reaksie of allergie

Soms kan beserings in die mond weens 'n reaksie op 'n behandeling of allergie ontstaan.

Sekere medisyne vir onder meer skildklierprobleme en hoë bloeddruk kan mense kwesbaarder maak vir mondsere, verduidelik AP. Kankerpasiënte wat bestraling en chemoterapie kry, kan ook erge mondsere as newe-­effek van die behandeling ervaar.

Iemand wat 'n allergiese reaksie in die mond ervaar, sal gewoonlik 'n vlak skraap ontwikkel eerder as 'n volwaardige mondseer, voeg André by. Die tong, tandvleis of wang sal dan rooi en ontsteek wees.

Algemene oorsake hiervan is 'n allergie vir tandepasta, 'n mondspoelmiddel of kougom. Neem kennis van watter middele tot sulke reaksies lei en bespreek dit met jou dokter of tandarts.

Infeksie of ernstiger siektes

“Mondsere is soms die eerste of enigste aanduiding van 'n ernstige onderliggende siekte wat sistemies nog nie geïdentifiseer is nie,” waarsku André.

So 'n siekte of blootstelling aan 'n virus is moontlik 'n oorsaak as jy dit gereeld kry of die heel eerste keer 'n klomp sere kry wat wyd in die mond voorkom.

Gesondheidsprobleme wat deur mond­sere gekenmerk word, sluit onder meer in: infeksie met die Herpes simplex-virus (die virus wat koorsblare veroorsaak), die dermsiekte Crohn se siekte, tuberkulose, geslagsiektes en die hand-voet-mond-­virussiekte wat gewoonlik by kinders voorkom.

Waar in die mond kom mondsere voor?

Die sere kan op enige plek in die mond voorkom, verduidelik AP.

“As dit 'n seertjie is omdat jy jouself raak gebyt het, is die lippe, tong en wange die al­gemeenste plek. Sere weens infeksie is gewoonlik nader aan die tande en tandvleis. As swak gesondheid dit veroorsaak, sal die hardwerkende gedeeltes van jou mond, soos die tong, verhemelte en lippe, eerste sere kry. As sere weens allergie ontstaan, is dit dikwels die sagter dele van die mond soos die lippe, wange en onder die tong wat die swaarste getref word.”

Mondkanker (sien kassie) kom dikwels onder en langs die tong voor waar dit moeilik sigbaar is, sê André. Soms is die eerste teken van so ’n gevaarlike seer dat die tong seer is wanneer dit beweeg of uitgesteek word.

Is dit aansteeklik?

Mondsere wat deur ’n infeksie veroorsaak word – soos koorsblare, hand-voet-mond-­sere of seerplekke wat deur die geslagsiekte sifilis veroorsaak word – is gewoonlik aansteeklik, sê AP.

As jy ’n mondseer het, is dit beter om te aanvaar dis aansteeklik tot ’n dokter die teendeel bevestig. Vermy dan fisieke kontak tot sewe dae ná genesing van die seer, en was gereeld jou hande.

Bly veral weg van babas en kinders wat moontlik nog nie aan die virus blootgestel is nie. Iemand met ’n koorsblaar moet byvoorbeeld geensins ’n kind soen nie – die baba kan baie siek word weens die herpesvirus.

Hoe behandel ek mondsere tuis?

Gebruik 'n mondspoelmiddel wat die bestanddeel chloorheksidien bevat om mondsere te ontsmet, sê André. Dit sal ook sekondêre infeksies, wat pyn kan vererger en sere langer kan laat duur, help verhoed. Kry so 'n spoelmiddel by die apteek.

Behandeling kan ook die volgende insluit, voeg AP by:

  • As daar pyn is, neem 'n pynstiller teen die voorgeskrewe dosis volgens jou ouderdom en gewig.
  • As daar koors is, bring dit af met koue drankies of 'n koorswerende pynstiller.
  • Vermy kosse soos pynappel, kerrie en tamatie, drankies, mondspoelmiddels en salwe wat die seerplek verder brand.
  • Vermy tuismedikasie soos teesakkies en aanverfmiddels voor jy 'n kenner gespreek het. Aangesien pynlike mondsere dit dikwels moeilik maak om te eet, kan jy dehidreer.Begin liewer betyds water en elektroliete inneem. Dis veral belangrik vir babas of kleuters wat dalk dehidreer sonder dat hulle dit besef.

Wanneer moet ek die dokter gaan spreek?

Laat jou mondseer deur 'n periodontis ondersoek as dit nie binne twee weke spontaan ­genees nie of as die sere gereeld herhaal, benadruk André. 'n Periodontis is ’n tandarts wat in tandvleis- en mondsiektes spesia­liseer. 'n Gewone tandarts kan egter ook 'n voorlopige diagnose maak en raad gee.

“As jy 'n seer ontwikkel, teken die datum aan sodat jy ná twee weke kan kyk of dit al gesond is. Mense dink dikwels hulle onthou wanneer die seer begin het, en voor jy jou oë uitvee, is maande verby, ” sê André.

As sere gereeld voorkom of jy dit die eerste keer kry, maar daar is baie mondsere, of as die mondsere aanhoudend bloei, moet jy ook dokter toe gaan.

As dit deur 'n virus veroorsaak word, ver­skyn die sere gewoonlik gou ná infeksie; hoe gouer jy dus gaan, hoe makliker is dit om te diagnoseer.

Vroeë diagnose is net so belangrik as die seer dalk op mondkanker dui (sien kassie).

“Op die oomblik sterf 50% van mense met mondkanker binne vyf jaar omdat dit te laat geïdentifiseer word,” waarsku André.

Die periodontis sal op grond van die voorkoms probeer vasstel watter soort mondseer dit is en wat dit veroorsaak. Hulle neem ook ander faktore in ag: Iemand met hand-voet-mond-siekte het byvoorbeeld nie net mondseertjies nie, maar ook blase op hul hande en voete.

As 'n visuele ondersoek nie tot ’n diagnose lei nie, word bloedtoetse gedoen. As iets verdag lyk, sal ’n stukkie weefsel weggestuur word vir ’n patologiese ondersoek voor ’n finale diagnose gemaak word.

Wenk

Onthou dat openbare gesondheids­klinieke en die klinieke by universiteite se tandheelkundefakulteite 'n goed­koper opsie bied as jy nie die dienste van 'n privaat spesialis kan bekostig nie.

Let wel:Nie alle mondsere is ewe ernstig nie. Koorsblare is egter hoogs aansteeklik: Jy moet fisieke kon­tak vermy tot minstens sewe dae ná genesing.

Wat van mondkanker?

Mondkanker kan aanvanklik as 'n enkelseer in die mondslymvlies ontstaan. So ’n seer verdwyn nie spontaan binne twee weke nie.

Let ook op of jy letsels in die mond sien wat wit en/of rooi is.

Die gevaar van mondkanker is groter by mense wat baie rook en alkohol misbruik en mense wat ouer as 50 jaar is, waarsku André.

Rookprodukte veroorsaak eintlik eers dat die mondvlies verdik – wat die teenoorgestelde van 'n mondseer is, sê AP. “Eers later, namate die kankerproses ­vorder, ontstaan ’n breuk in die vel van die mond. Dis dikwels nie seer aan die begin nie, al is dit reeds kwaadaardig.”

Hou jou mond dop vir enige sere of letsels, veral as jy in die risikogroep val, en gaan spreek so gou moontlik 'n periodontis as so ’n seerplek nie binne twee weke verdwyn nie.

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Het jy mondsere? Maak só om die seerplek te behandel | Huisgenoot (2024)
Top Articles
Latest Posts
Article information

Author: Velia Krajcik

Last Updated:

Views: 5912

Rating: 4.3 / 5 (54 voted)

Reviews: 93% of readers found this page helpful

Author information

Name: Velia Krajcik

Birthday: 1996-07-27

Address: 520 Balistreri Mount, South Armand, OR 60528

Phone: +466880739437

Job: Future Retail Associate

Hobby: Polo, Scouting, Worldbuilding, Cosplaying, Photography, Rowing, Nordic skating

Introduction: My name is Velia Krajcik, I am a handsome, clean, lucky, gleaming, magnificent, proud, glorious person who loves writing and wants to share my knowledge and understanding with you.